
Wonde van die voete, voetsole en onderbene van pasiënte met diabetes. Hierdie wonde mag ontstaan weens ingekorte sensasie (neuropatie) of ingekorte arteriële toevoer (ischemie) of ’n kombinasie van bogenoemde (neuro-ischemie)

Veneuse stase ulkusse is verantwoordelik vir die oorgrote meerderheid onderbeenulkusse. Dit ontstaan dikwels weens swak vloei van veneuse bloed vanuit die onderbene terug na die hart. Pasiënte het dikwels ’n geskiedenis van spatare en / of vorige diep veneuse trombose

Pasiënte met arteriële inkorting en veneuse inkorting, mag ook hardnekkige onderbeenulkusse ontwikkel, wat uitdagende wonde is om te behandel. Indien konserwatiewe wondsorg nie die nodige resultate oplewer nie, mag dit nodig wees om die arteriële toevoer te verbeter

Pasiënte met arteriële ulkusse het onvoldoende toevoer van suurstofryke bloed na die ledemate. Indien moontlik word hierdie pasiënt aanvanklik konserwatief behandel. Indien konserwatiewe wondsorg nie die nodige resultate oplewer nie, mag dit nodig wees om die arteriële toevoer te verbeter

’n Volledige mediese geskiedenis en kliniese ondersoek sal gevolg word deur ’n Doppler-ondersoek om te bepaal of die arteriële toevoer na die ledemaat voldoende is

In gevalle waar dit nodig geag word, kan arteriële en / of veneuse dupleks-Doppler ondersoeke gedoen word ten einde die kliniese diagnose te bevestig

Ons het spesiale toerusting ten einde te bepaal presies hoeveel suurstof beskikbaar is op spesifieke areas op die liggaam. Dit kan gebruik word om te bepaal of daar voldoende suurstof beskikbaar is vir die wond om te genees

Al die werknemers by die praktyk is opgelei om basiese wondsorg te doen. Deurdat ons baie pasiënte hanteer, kan ons basiese wondsorg op ’n deskundige vlak aanbied. Ons het ook ’n span verpleegkundiges wat in assosiasie met die praktyk werk. Sommige van hulle doen selfs tuisbesoeke.

Verskeie gevorderde wondsorgmodaliteite is beskikbaar, insluitende negatiewe drukterapie (VAC). Wanneer gevorderde wondsorg benodig word, betrek ons dikwels ons span wondsorgdeskundiges. Hierdie persone is verpleegkundiges met bykomende kwalifikasies ten einde gevorderde wondsorg te doen.

Pasiënte met arteriële inkorting, wat nie na wense reageer op basiese wondsorg of gevorderde wondsorg nie, kan oorweeg word vir arteriële prosedures. Dr Weir is ’n Vaskulêre Chirurg en sal die opsies met die pasiënt bespreek en op die beste ingreep vir die spesifieke pasiënt, saam met die pasiënt besluit

Hiperbariese Suurstofterapie is internasionaal aanvaar as ’n toepaslike behandelingsmodaliteit vir pasiënte met komplekse wonde, wie nie na wense reageer op gevorderde wondsorg nie. Ons het twee hiperbariese eenhede in die praktyk en kan in geselekteerde gevalle die behandeling motiveer by u mediese fonds.
U is meer as welkom om ons te kontak ten einde ’n afspraak te reël.
Neem asseblief kennis dat ons slegs pasiënte met mediese fondse kan hanteer. As u ’n “privaat”-pasiënt is, sonder ’n mediese fonds, sal ons u ongelukkig elders moet verwys.
Vaskulêre & Hiperbariese Eenheid · Life Eugene Marais Hospitaal
5de Laan 696, Les Marais, Pretoria, Gauteng, Suid-Afrika
Tel: 012 335 8651 · Sel: 061 520 4140
E-pos: [email protected]
WhatsApp: 061 520 4140
Dr Weir het in 1993 gekwalifiseer as ’n mediese dokter. Hy het daarna gespesialiseer as ’n Algemene Chirurg. Hy het ’n genootskap voltooi en eksamens afgelê ten einde te kwalifiseer en te registreer as ’n Vaskulêre Chirurg in 2002. In 2003 het hy ’n genootskap in Trauma Chirurgie en Endovaskulêre Chirurgie afgelê in Sydney, Australië. Dr Weir is sedert 2004 in praktyk by die Eugene Marais Hospitaal. Hy het in 2007 ’n kursus afgelê in Hiperbariese Geneeskunde, waarna hy die Hiperbariese Eenheid oorgeneem het by Dr Frans Cronjé. In 2010 het hy ’n Internasionale Interdissiplinêre Wondsorgkursus voltooi.
Dr Weir het gespesialiseer in Vaskulêre Chirurgie, en is gekwalifiseer in Hiperbariese Geneeskunde en gespesialiseerde Wondsorg.

Vaskulêre Chirurg

Praktykbestuurder &
Hiperbariese Tegnoloog

Finansiële Bestuurder &
Hiperbariese Tegnoloog
Ons hanteer chroniese, hardnekkige wonde, insluitende diabetiese voetulkusse, veneuse stase ulkusse, gemengde onderbeenulkusse, en arteriële ulkusse en gangreen.
Ons is geleë by die Vaskulêre & Hiperbariese Eenheid, Life Eugene Marais Hospitaal, 5de Laan 696, Les Marais, Pretoria, en bedien Pretoria-Noord, Montana en die Moot.
Ons kan slegs pasiënte met aktiewe mediese fonds dekking hanteer. Privaat pasiënte sonder ’n mediese fonds sal ongelukkig elders verwys moet word.
Met toepaslike basiese wondsorg behoort u binne ongeveer 7 dae verbetering te sien. Indien daar geen verbetering is nie, benodig u ’n wondsorg-spesialis. Indien ’n wond na 6 weke onder spesialis-sorg nie na wense verbeter het nie, benodig u ’n konsultasie met ’n vaskulêre chirurg of ’n ander toepaslike chirurgiese of ortopediese spesialis.
Hiperbariese suurstofterapie word internasionaal aanvaar vir komplekse wonde wat nie na wense reageer op gevorderde wondsorg nie. Die praktyk het twee hiperbariese eenhede en kan, in geselekteerde gevalle, die behandeling by u mediese fonds motiveer.
Gangreen — swart, dooie weefsel, gewoonlik van die tone, weens onvoldoende bloedvoorsiening — is altyd dringend. Alle pasiënte met gangreen moet onmiddellik na ’n vaskulêre chirurg verwys word.